• Tak Grondwet en Bestuurlid ooreenkoms

    Tak Grondwet en Bestuurlid ooreenkoms

  • AFRIFORUM-TAKGRONDWET

  • AANGESIEN die oprigters ’n struktuur wil formaliseer wat as gemeenskapstruktuur vir die burgerlike gemeenskap sal dien, het die oprigters ooreengekom om, as lede van AfriForum, ’n tak te stig om (i) by AfriForum in te skakel as ’n plaaslike AfriForum-tak; (ii) plaaslike strukture en aksies ter bereiking van AfriForum se Burgerregtemanifes te ontwikkel; en (iii) aandag te gee aan enige aspek wat met AfriForum se gemeenskapsdoelwitte verband hou, op ’n basis soos verder hierin uiteengesit.

    1. Oprigting van die plaaslike AfriForum-tak
    Die oprigters stig en rig hiermee die plaaslike AfriForum-tak op as ’n substruktuur van AfriForum MSW (’n maatskappy sonder winsoogmerk). Die plaaslike AfriForum-tak tree op as ’n substruktuur van AfriForum en plaaslike verteenwoordigers van AfriForum. Die plaaslike AfriForum-tak het geen regspersoonlikheid van sy eie nie en ressorteer onder die regspersoonlikheid van AfriForum.

    2. Definisie van ’n AfriForum-tak
    ’n Tak of takstruktuur is ’n georganiseerde struktuur van vrywilligers wat deur hul werksaamhede binne die takstruktuur daarna streef om die doelstellings van AfriForum in ’n bepaalde gemeenskap te verwesenlik.

    3. Ontstaansrede vir AfriForum-takke
    Takke van AfriForum ontstaan wanneer ondersteuners vrywillig en op hul eie tyd en onkoste, met AfriForum se steun, by AfriForum se gemeenskapaksies betrokke raak.

    4. Doelstellings
    Die plaaslike AfriForum-tak, as gemeenskapstruktuur binne sy plaaslike gemeenskap, het ten doel om:

    4.1   AfriForum se Burgerregtemanifes te bevorder;
    4.2   Afrikanerselfstandigheid te bevorder;
    4.3   gemeenskapselfstandigheid en -ontwikkeling te bevorder;
    4.4   plaaslike veiligheidsinisiatiewe te ontwikkel;
    4.5 ’n platform te vestig wat die plaaslike regering namens die gemeenskap deur openbare deelname tot verantwoording roep;
    4.6   op te tree as die stem van die gemeenskap en so die gemeenskap te verteenwoordig in kwessies wat die gemeenskap as geheel raak;
    4.7   burgers se reg te bevorder om billike voordeel uit hulle belastinggeld te trek en insae in die aanwending daarvan te hê;
    4.8   verantwoordelikheid te neem om basiese dienste te herstel wat die gemeenskap raak;
    4.9   die kuns en kultuur van die gemeenskap te bewaar;
    4.10 die gemeenskap vir die bewaring van die natuur te mobiliseer;
    4.11 jeugleierskap en -ontwikkelingsprogramme beskikbaar te stel;
    4.12 gemeenskapsgesondheid en algemene gesondheidsdienste te bevorder;
    4.13 voorspraak te doen vir die bevordering en beskerming van burgerregte, die regte van minderhede, grondwetlike regte en internasionaal erkende regte van gemeenskappe in Suid-Afrika; en
    4.14 omstandighede te bevorder waarin gemeenskappe en minderhede in die algemeen en Afrikaners in besonder vry, vreedsaam, veilig en voorspoedig in Afrika kan leef.

    5. Taklidmaatskap
    Die vereistes vir lidmaatskap en bevoegdhede van lede word vervolgens uiteengesit.

    5.1 Taklidmaatskapvereistes
    Enige individu wat:
    5.1.1 in die geografiese gebied van die betrokke plaaslike gemeenskap woon, werk, studeer, ’n eiendom besit of ’n besigheid bedryf; en
    5.1.2 wat hom-/haarself met AfriForum se visie en missie en bogenoemde doelstellings en beginsels vereenselwig; en
    5.1.3 wat ’n lid is van AfriForum kwalifiseer om as lid van die plaaslike AfriForum-tak op te tree.

    5.2 Bevoegdhede van taklede
    Slegs lede van AfriForum mag:
    5.2.1 aan verkiesings van ampte deelneem;
    5.2.2 oor besluite stem;
    5.2.3 tot die bestuur van die plaaslike AfriForum-tak verkies word;
    5.2.4 op die regte aanspraak maak wat in hierdie grondwet uiteengesit word; en
    5.2.5 op die regte aanspraak maak soos deur sy/haar normale lidmaatskapstatus bepaal word.

    5.3 Status van lede
    Ingevolge die regte en verantwoordelikhede van taklede van die plaaslike AfriForum-tak en ander lede van AfriForum, beskik beide kategorieë oor dieselfde status.

    5.4 Ondersteuners
    5.4.1 Individue wat dit finansieel nie kan bekostig om by AfriForum aan te sluit nie maar 'n aktiewe rol in die tak wil speel, kan aansoek doen om as ondersteuners van AfriForum by die plaaslike AfriForum-tak te registreer.
    5.4.2 Ondersteuners sal van aksies ingelig word en mag by die aksies betrokke wees en ledevergaderings bywoon.
    5.4.3 Ondersteuners beskik nie oor stemreg nie, maar mag insette lewer.
    5.4.4 Ondersteuners kwalifiseer nie vir enige amp in die plaaslike AfriForum-tak nie.
    5.4.5 Ondersteuners wat nie 'n aktiewe rol in die tak speel nie sal hul status as ondersteuners verloor.
    5.4.6 Dit is die verantwoordelikheid van die takbestuur om ’n databasis van ondersteuners te onderhou.

    5.5 Vrywilligers
    5.5.1 Elke AfriForum-lid is daarop geregtig om op ’n georganiseerde wyse binne takverband by AfriForum se bedrywighede in te skakel.
    5.5.2 ’n Lid van die plaaslike AfriForum-tak verbind hom of haar tot aktiewe deelname aan die tak se aktiwiteite.
    5.5.3 Betrokkenheid geskied op ’n vrywillige (geen vergoeding) basis

    5.6 Medewerkers
    5.6.1 ’n Medewerker is ’n organisasie- of gemeenskapsleier wat in die gemeenskap werksaam is en die breë doelstellings van AfriForum ondersteun.
    5.6.2 ’n Medewerker van ’n plaaslike AfriForum-tak is enige leier van ’n bestaande instelling wat:
    5.6.2.1 behulpsaam kan wees met die uitvoering van die plaaslike AfriForum-tak se doelstellings in die gebied van die betrokke plaaslike gemeenskap;
    5.6.2.2 ’n positiewe bydra tot die gemeenskap wil lewer; en
    5.6.2.3 deur die bestuur van die plaaslike AfriForum-tak genooi word om by die tak in te skakel vir ’n tydperk solank as wat die bestuur wenslik ag, na voldoening aan sodanige redelike voorwaardes wat die bestuur van tyd tot tyd mag bepaal.
    5.6.2.4 Slegs mense wat by niepartypolitieke kultuur-, geloof- opvoedkundige en ander aksiegedrewe gemeenskapsorganisasies (soos kerke en skole) betrokke is, kan as medewerkers
    oorweeg word.
    5.6.2.5 Samewerkingsooreenkomste kan tussen die tak en medewerkers tot stand gebring word.
    5.6.2.6 Die AfriForum-takreglement omskryf en struktureer die verhouding met medewerkers.

    5.7 Takgrense
    5.7.1 Die tak se werksgebied word volgens geografiese ligging ingedeel.
    5.7.2 Die werksgebied van die plaaslike AfriForum-tak word in woonbuurt- of dorpsvlak ingedeel.
    5.7.3 Skakeling en samewerking tussen AfriForum-takke word op só 'n manier daargestel dat praktiese uitvoering aan AfriForum se doelstellings gegee word.

    5.8 Takstigting
    5.8.1 ’n Minimum aantal AfriForum-lede moet vir die stigting van ’n AfriForum-tak beskikbaar wees. Hierdie aantal word deur die AfriForum-takreglement bepaal.
    5.8.2 Die besluit om ’n tak te stig wat tydens ’n takstigtingsvergadering geneem word, soos saamgevat in die betrokke vergadering se notule, tesame met die takstigtingsvorms (soos uiteengesit in die AfriForum- takreglement) moet aan die hoof: Gemeenskapsake of sy/haar verteenwoordiger voorgelê word.
    5.8.3 Kennisgewing van die die takstigtingsvergadering sal skriftelik en/of elektronies geskied en die volgende inligting bevat:
    5.8.3.1 die datum, tyd, plek en doel (bekendstelling van die stigting en vorming van die AfriForum-tak) van die vergadering; en
    5.8.3.2 die datum en tyd wat bevestiging van bywoning ontvang moet word.
    5.8.4 Die kennisgewing kan in die media geplaas word en uitnodigings kan aan belanghebbende persone gestuur word om die lede-, ondersteuners- en vrywilligerkorps van die AfriForum-tak uit te brei.
    5.8.5 Verdere reëlings rondom die reël van hierdie vergadering word in die AfriForum-takreglement omskryf.
    5.8.6 Met die takstigting word die struktuur geformaliseer en die takbestuur word ingevolge hierdie grondwet aangewys.
    5.8.7 Die takbestuur kan ’n tussentydse bestuur wees met dien verstande dat só ’n tak geherorganiseer of ontbind mag word indien daar nie binne ses maande ’n formele vergadering gehou word waartydens ’n volledige takbestuur verkies word nie.
    5.8.8 Alvorens die tak nie formeel gestig is soos uiteengesit in die AfriForum-takreglement nie, kan daardie struktuur nie aanspraak maak op die voordele en bevoegdhede van ’n erkende tak nie.
    5.8.9 Die oprigters sal die aanvanklike bestuur van die plaaslike AfriForum-tak uitmaak totdat ’n stigtingsvergadering of herorganisering plaasvind waartydens die bestuur verkies word.
    5.8.10 ’n Tussentydse loodskomitee kan deur die hoof: Gemeenskapsake of sy/haar verteenwoordiger aangewys word. Die struktuur en prosesse van hierdie komitee moet steeds aan alle administratiewe vereistes voldoen.

    5.9 Takbestuur
    5.9.1 Die takbestuur is die uitvoerende gesag van die tak.
    5.9.2 Enige AfriForum-lid kan verkies word om op die bestuur te dien. Indien ’n lid nie beskikbaar is vir verkiesing nie, moet sodanige lid dit tydens die nominasieproses, voor die aanvang van die verkiesing, bekend maak.
    5.9.3 Die takbestuur bestaan uit die volgende lede:
    5.9.3.1 Voorsitter
    5.9.3.2 Ondervoorsitter
    5.9.3.3 Sekretaris
    5.9.3.4 Penningmeester
    5.9.3.5 Beamptes
    5.9.4 Die takbestuur word slegs as behoorlik saamgestel erken indien daar ten minste ’n voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en penningmeester aangewys word.
    5.9.5 Die takbestuur kan besluit om komiteelede as ad hoc-bestuurslede te koöpteer.
    5.9.6 Die takbestuur word by die stigting- of herorganiseringsvergadering aangewys.
    5.9.7 Die termyn van die takbestuur word deur die AfriForum-takreglement bepaal.
    5.9.8 Die bestuurslede kan lede koöpteer soos dit nodig geag word vir ‘n ampstermyn wat eindig met die daaropvolgende herorganiseringsvergadering, met dien verstande dat die gekoöpteerde lede (met die uitsluiting van komiteelede) nie meer as 20% van die bestuur sal uitmaak nie.
    5.9.9 AfriForum-hoofkantoor behou die reg voor om in oorleg met die takbestuur ’n taksekretaris aan te wys omdat die taksekretaris ’n sleutelrol in die sukses van ’n tak speel en oor spesifieke vaardighede moet beskik.
    5.9.10 Die bestuur mag portefeulje-omskrywings vir enige ander bestuurslid opstel. Indien nodig, kan die bestuur taakspanne saamstel om beter uitvoering aan die plaaslike AfriForum-tak se doelwitte en aktiwiteite te gee.

    5.10 Substrukture
    5.10.1 Die tak sal substrukture vestig sodat AfriForum se doelwitte wat verband hou met geïdentifiseerde fokusareas bereik kan word.
    5.10.2 'n Substruktuur is verantwoordelik vir die praktiese uitvoer van die tak se aksies binne die spesifieke fokusarea.
    5.10.3 Die beampte wat verantwoordelik is vir die spesifieke fokusarea staan aan die hoof van die spesifieke fokusarea-substruktuur en sal deel van die takbestuur vorm.
    5.10.4 'n Substruktuur bestaan uit taklede wat hulself beskikbaar stel om 'n rol in die substruktuur te speel.
    5.10.5 Lede met 'n spesifieke funksie binne die substruktuur word na oorlegpleging met die res van die takbestuur deur die voorsittende beampte van die substruktuur aangewys.
    5.10.6 AfriForum-hoofkantoor behou die reg voor om na oorleg met die takbestuur substruktuurlede met 'n spesifieke funksie aan te wys en vir 'n vaste termyn aan te stel omdat spesifieke kennis en vaardighede benodig kan word.
    5.10.7 Die samestelling van 'n substruktuur (wat ook verdere substrukture kan insluit) word bepaal deur die unieke omstandighede op plaaslike vlak.
    5.10.8 Die samestelling, werksaamhede, rolle en verantwoordelikhede van die substrukture word in die AfriForum-takreglement vervat.

    5.11 Bevoegdhede en verantwoordelikhede van bestuurslede

    5.11.1 Die AfriForum-tak se bestuur bestaan uit lede wat vrywillig en op eie koste met AfriForum se steun hulself beskikbaar stel en wat dan regstreeks aan die AfriForum-hoofkantoor verantwoording doen oor die implementering en toepassing van die bepalings van hierdie grondwet.

    5.11.2 Die AfriForum-takbestuur staan onder die gesag, fokus, beleid en riglyne van die direksie van AfriForum of die gevolmagtigde liggaam soos van tyd tot tyd deur die direksie bepaal.

    5.11.3 Die bestuur sal beskik oor al sodanige bevoegdhede as wat nodig mag wees om hul in staat te stel om die doelstellings van die plaaslike AfriForum-tak binne die beleidsraamwerk en riglyne wat van tyd tot tyd deur die direksie van AfriForum neergelê mag word, na te streef.

    5.11.4 Sonder om afbreuk te doen aan die algemene bepalings in die voorafgaande paragrawe, sal die bestuur in besonder oor die volgende bevoegdhede beskik:
    5.11.4.1 om openbare veldtogte aan te pak en mediaverklarings uit te reik, mits die inhoud van sodanige veldtogte en mediaverklarings vooraf met die uitvoerende hoof van AfriForum of sy gedelegeerde uitgeklaar is;
    5.11.4.2 om aansoeke om taklidmaatskap vir goedkeuring te oorweeg;
    5.11.4.3 om bates te bewaar en in stand te hou, dit te verklaar en jaarliks daaroor te rapporteer; en
    5.11.4.4 om geld te bestee ten einde die doelwitte van die plaaslike AfriForum-tak te bereik.

    5.11.5 Die bestuur van die plaaslike AfriForum-tak kan huishoudelike reëls aanvullend tot hierdie grondwet opstel om die tak se werksaamhede doeltreffend en funksioneel te bestuur. Die oogmerk van sodanige huishoudelike reëls moet soos volg wees:
    5.11.5.1 om die doelwitte en aktiwiteite van die plaaslike AfriForum-tak te bevorder; en
    5.11.5.2 om enige operasionele leemte in hierdie grondwet te vul.

    5.11.6 Die huishoudelike reëls van die plaaslike AfriForum-tak moet skriftelik deur AfriForum-hoofkantoor en ’n behoorlik gekonstitueerde vergadering van die AfriForum-tak goedgekeur word.

    5.11.7 Die takbestuur en/of takbestuurslede kan slegs ’n kontrak namens AfriForum in uitsonderlike gevalle aangaan en slegs indien skriftelik daartoe gemagtig deur die adjunk- uitvoerende hoof: gemeenskapsake.

    5.12 Ampsdraers van AfriForum-takke
    AfriForum behou die reg voor om agtergrondsondersoeke op enige voornemende bestuurslid te doen en te laat doen om AfriForum se integriteit en beeld te beskerm.
    AfriForum-hoofkantoor sal nadat die ondertekende ampsaanvaardingsvorms ontvang is en die nodige agtergrondondersoeke afgehandel is besluit of 'n aangewese takbestuurslid erken word as lid van die takbestuur of nie.

    5.12.1 Voorsitter
    Die voorsitter word aanvanklik verkies tydens die konstituering van die tak en daarna tydens herorganisering. Die voorsitter is vir die volgende pligte verantwoordelik:
    5.12.1.1 sien toe dat die tak die nodige uitkomste bereik om uitvoeringe te gee aan AfriForum se missie;
    5.12.1.2 neem die leiding in alle bestuursvergaderings, takvergaderings, takwerksaamhede en takprojekte, behalwe waar ’n spesifieke taak aan ’n ander taklid opgedra word;
    5.12.1.3 stel in samewerking met die sekretaris die sakelys vir die bestuurs- en ledevergaderings op;
    5.12.1.4 skakel met die sekretaris oor die opvolging van dringende korrespondensie wat nie tot ’n vergadering kan wag nie;
    5.12.1.5 sien toe dat soveel as moontlik taklede by takprojekreëlings betrek word;
    5.12.1.6 neem die leiding in die beplanning van ’n takjaarprogram om te verseker dat die oorhoofse doelstellinge en doelwitte van AfriForum deur die tak se projekte bereik word;
    5.12.1.7 volg met taklede op dat take uitgevoer is of dra take aan hulle op;
    5.12.1.8 kontroleer of alle bestuurslede en komitees hul verantwoordelikhede nagekom het;
    5.12.1.9 motiveer die taklede voortdurend om by takwerksaamhede betrokke te raak;
    5.12.1.10 bevorder die uitbou van AfriForum se ledebasis;
    5.12.1.11 voer die AfriForum-takreglement uit;
    5.12.1.12 keur betalings in samewerking met die penningmeester goed, soos deur die takbestuur versoek en volgens die voorgestelde prosedure;
    5.12.1.13 delegeer tydelik administratiewe verpligtinge skriftelik aan enige bestuurslid; en
    5.12.1.14 moet toegang tot e-pos en die internet hê.

    5.12.2 Ondervoorsitter
    Die ondervoorsitter word aanvanklik verkies tydens die konstituering van die tak en daarna tydens herorganisering. Die ondervoorsitter is vir die volgende pligte verantwoordelik:
    5.12.2.1 ondersteun die voorsitter in die uitvoering van sy/haar pligte om die tak te lei;
    5.12.2.2 neem leiding in takverband oor wanneer die takvoorsitter om een of ander rede nie die takvergadering of takaktiwiteite kan behartig nie;
    5.12.2.3 neem leiding by die takvoorsitter oor wanneer die takvoorsitter om welke rede ook al nie meer as takvoorsitter van die tak kan funksioneer nie, totdat ’n nuwe voorsitter verkies/aangewys word;
    5.12.2.4 neem leiding in die hoedanigheid van projekkoördineerder ten opsigte van projekte wat deur die tak aangebied word indien daar nie 'n projekbeampte op die takbestuur aangewys is nie; en
    5.12.2.5 moet toegang tot e-pos en internet hê.


    5.12.3 Sekretaris
    Die sekretaris word aanvanklik tydens die konstituering van die tak verkies en daarna tydens herorganisering. AfriForum- hoofkantoor behou die reg voor om na oorleg met die takbestuur ’n taksekretaris aan te wys. Die sekretaris is vir die volgende pligte verantwoordelik:
    5.12.3.1 stel in samewerking met die voorsitter die sakelys vir vergaderings op aan die hand van korrespondensie wat ontvang en die takaktiwiteite wat beplan word;
    5.12.3.2 sorg dat ’n teenwoordigheidslys by elke vergadering/takaktiwiteit ingevul en aan AfriForum-hoofkantoor gestuur word;
    5.12.3.3 stuur ’n notule of inligting van takwerksaamhede aan die administratiewe beampte by AfriForum-hoofkantoor onder wie die tak val;
    5.12.3.4 behartig alle korrespondensie aangaande besluite wat by ’n vergadering geneem is, behalwe in gevalle waar take aan spesifieke persone opgedra is;
    5.12.3.5 gaan lederegisters na wat van AfriForum-hoofkantoor ontvang is;
    5.12.3.6 hou ’n databasis van vrywilligers by;
    5.12.3.7 stel ’n liasseerstelsel van al die tak se korrespondensie saam en bewaar sodanige korrespondensie;
    5.12.3.8 sien in samewerking met AfriForum-hoofkantoor toe dat die lede van takvergaderings en -byeenkomste in kennis gestel word op die wyse waarop die taklede besluit het;
    5.12.3.9 hy/sy kan as ondervoorsitter waarneem; en
    5.12.3.10 moet toegang tot e-pos en die internet hê.


    5.12.4 Penningmeester
    Die penningmeester word aanvanklik tydens die konstituering van die tak verkies en daarna tydens herorganisering. Die penningmeester is verantwoordelik vir die volgende pligte:
    5.12.4.1 dra die verantwoordelikheid om doeltreffend en deeglik beheer van die tak se finansies te neem;
    5.12.4.2 sien toe dat 'n begroting jaarliks vir die tak opgestel word;
    5.12.4.3 kontroleer alle uitgawes en sien toe dat daar genoegsame bewyse is van uitbetalings wat gemaak word en van uitgawes wat met die nodige goedkeuring van die takbestuur deur taklede aangegaan word;
    5.12.4.4 sien toe dat kwitansies en/of fakture van uitgawes as bewys by AfriForum- hoofkantoor ingedien word voordat enige betalings deur AfriForum- hoofkantoor gemaak word;
    5.12.4.5 sien toe dat die finansiële gedeelte van die AfriForum-takreglement gevolg en uitgevoer word;
    5.12.4.6 volg die boekhoustelsel wat deur AfriForum-hoofkantoor vasgestel word;
    5.12.4.7 laat alle uitgawes notuleer;
    5.12.4.8 sien toe dat die tak nie sy finansiële perke oorskry nie;
    5.12.4.9 keur betalings goed soos deur die takbestuur versoek en volgens die voorgestelde prosedure in samewerking met die voorsitter; en
    5.12.4.10 moet toegang tot e-pos en die internet hê.

    5.12.5 Beamptes
    5.12.5.1 Beamptes word aanvanklik tydens die konstituering van die tak aangewys en daarna tydens herorganisering.
    5.12.5.2 AfriForum-hoofkantoor behou die reg voor om na oorleg met die takbestuur beamptes aan te wys en vir 'n vaste termyn aan te stel omdat spesifieke kennis en vaardighede benodig kan word.
    5.12.5.3 Beamptes vorm deel van die takbestuur en moet derhalwe takbestuursvergaderings bywoon, asook insette tydens besluitneming en die uitvoer van reëlings rakende takprojekte lewer.
    5.12.5.4 Beamptes is medeverantwoordelik vir die werksaamhede van die tak en die uitvoer van take.
    5.12.5.5 'n Beampte is verantwoordelik vir die uitvoer van voorgestelde nasionale en plaaslike projekte asook die bereiking van uitkomste binne 'n spesifieke fokusarea.
    5.12.5.6 Die AfriForum-takreglement omskryf die verdere aktiwiteite en verantwoordelikhede van beamptes.
    5.12.5.7 Daar word gepoog om beamptes vir die volgende fokusareas aan te wys:
    a) Bemarking en werwing
    b) Gemeenskapsveiligheid
    c) Gesondheid
    d) Jeug
    e) Kultuur en toerisme
    f) Omgewingsake
    g) Plaaslike Regering
    h) Projekte
    5.12.5.8 Indien 'n beampte vakature ontstaan, kan die takbestuur die vakature vul.
    5.12.5.9 'n Lid kan nie die rol van meer as een beampte vervul nie.
    5.12.5.10 Die voorsitter, ondervoorsitter, penningmeester of sekretaris mag as beampte dien slegs indien daar geen ander lid beskikbaar en gewillig is om die amp te vul nie.

    5.12.6 Bykomende en ad hoc-takbestuurslede Hierdie lede:
    a) vorm deel van die takbestuur en moet derhalwe takbestuursvergaderings bywoon en insette tydens besluitneming en die uitvoer van reëlings aangaande takprojekte lewer; en
    b) is medeverantwoordelik vir die werksaamhede van die tak en die uitvoer van take.

    5.12.6.1 Bykomende takbestuurslede
    a) word vir die termyn van die takbestuur deur die tak aangewys; en
    b) is lede met spesifieke fokusareas wat bykomend tot die fokusareas van hierdie grondwet geïdentifiseer is.

    5.12.6.2 Ad hoc-takbestuurslede
    a) word deur die takbestuur aangewys om te help met die bereiking van ’n spesifieke doel of die uitvoering van ’n spesifieke projek;
    b) is nie-amptelike lede van die takbestuur en het geen stemreg of inspraak in die takbestuur se werksaamhede nie, buiten die doel waarvoor hulle aangewys word; en
    c) se aanstelling is tydelik van aard.

    5.13 Administrasie en funksionering van die tak
    5.13.1 Algemeen
    5.13.1.1 Administratiewe reëlings word deur die AfriForum-takreglement bepaal, soos deur AfriForum-hoofkantoor opgestel en gewysig.
    5.13.1.2 Die takbestuurslede se verwagte optrede word in die AfriForum-takbestuurgedragskode omskryf.
    5.13.2 Partypolitiek
    5.13.2.1 AfriForum-strukture mag nie as partypolitieke platforms gebruik word nie.
    5.13.2.2 AfriForum-strukture mag nie spesifieke kandidate vir nasionale óf plaaslike verkiesings bevorder nie.
    5.13.2.3 Indien ’n bestuurslid aan ’n algemene en/of plaaslike verkiesing sou deelneem, moet die lid minstens ses maande voor die verkiesing sy/haar bedanking op skrif indien.
    5.13.2.4 ‘n Bestuurslid wat sodanig bedank om deel te neem aan ‘n algemene en/of plaaslike verkiesing mag nie sy/haar betrokkenheid by AfriForum gebruik in enige verkiesingsveldtogte nie. Indien dit sou gebeur sal AfriForum-hoofkantoor in die openbaar hulself distansieer van die betrokke persoon.
    5.13.2.5 Indien ’n bestuurslid aan ’n algemene en/of plaaslike verkiesing sou deelneem onder die vaandel van ‘n politieke party, maar nie verkies word nie, kan die lid eers 18 maande ná die verkiesing hom-/haarself beskikbaar stel om op die tak te dien.
    5.13.2.6 Politieke ampsdraers mag nie op takbesture of -komitees dien nie.

    5.14 Prosedure vir die verkiesing van die takbestuur
    5.14.1 Lede van die takbestuur word per oop stemming of per stembrief genomineer en verkies.
    5.14.2 Die tak se ledelys sluit sewe dae voor die verkiesing plaasvind. Enige lid wat daarna by die tak aansluit, het nie stemreg vir daardie herorganiseringsvergadering nie en kan eers by die volgende herorganisering van die tak stem.
    5.14.3 Lede van die takbestuur word by wyse van ’n oop stemming of geslote stembriewe en met ’n gewone meerderheid verkies indien meer as een nominasie gemaak word. Indien slegs een nominasie ontvang word, is die genomineerde die gekose bestuurslid.
    5.14.4 Die ampstermyn (soos bepaal deur die AfriForum-takreglement) van elke lid van die takbestuur kom tot ’n einde wanneer daar tydens die herorganiseringsvergadering ’n nuwe takbestuur verkies word.
    5.14.5 Bestuurslede wie se termyn tot ’n einde loop, is tydens die herorganiseringsvergadering herverkiesbaar.
    5.14.6 Stembriewe of stemrekords moet vir een jaar deur die sekretaris bewaar word. Enige lid mag vra om die stembriewe of stemrekords te besigtig.
    5.14.7 Tussentydse vakatures word deur die takbestuur self vir die oorblywende gedeelte van die termyn gevul. Die vul van hierdie vakatures moet steeds aan alle administratiewe prosedures voldoen.

    5.15 Takvergaderings
    5.15.1 Elke tak moet ’n minimum van vier vergaderings per jaar hou.
    5.15.2 Daar is nege verskillende tipes takvergaderings:
    5.15.2.1 Loodsingskomiteevergadering
    5.15.2.2 Stigtingsvergadering
    5.15.2.3 Algemene jaarvergadering
    5.15.2.4 Herorganiseringsvergadering
    5.15.2.5 Gewone takledevergadering
    5.15.2.6 Gemeenskapsvergadering
    5.15.2.7 Takbestuursvergadering
    5.15.2.8 Komiteevergadering
    5.15.2.9 Buitengewone takledevergadering

    5.15.3 Kennisgewing- en kworumvereistes en ander sake van toepassing op takvergaderings en takbestuursvergaderings word deur die AfriForum-takreglement bepaal.

    5.16 Beëindiging van lidmaatskap
    5.16.1 AfriForum-hoofkantoor het die bevoegdheid om ’n lid se lidmaatskap te beëindig indien die lid, volgens die mening van AfriForum, skuldig is aan optrede wat bots met die belange en/of doelstellings van AfriForum, of waar die lid se voortgesette lidmaatskap bots met die belange van AfriForum of indien die lid, volgens die mening van AfriForum, die AfriForum-takbestuurgedragskode oortree.
    5.16.2 By die uitoefening van die bevoegdheid uiteengesit in die klousule hierbo, sal AfriForum-hoofkantoor die betrokke lid skriftelik van die redes voorsien. Die betrokke lid sal die reg hê om binne sewe dae na ontvangs van die skriftelike redes, die adjunk- uitvoerende hoof: gemeenskapsake skriftelik in kennis te stel dat hy/sy binne 28 dae na ontvangs van die skriftelike redes, skriftelik appèl sal aanteken.
    5.16.3 Die uitvoerende komitee van AfriForum mag binne sewe dae na die ontvangs van die skriftelike appèl van die betrokke lid, soos hierbo voorsien, op voorwaardes na goeddunke en sonder die verpligting om redes te verskaf, die besluit herroep, wysig of bevestig.
    5.16.4 ’n Lid se lidmaatskap kan opgeskort word indien sy/haar lidmaatskapgeld vir meer as drie maande agterstallig raak.
    5.16.5 ’n Lid moet by uittrede, bedanking of beëindiging van lidmaatskap alle dokumente en bates in sy/haar besit aan die betrokke AfriForum-tak terugbesorg.

    5.17 Beëindiging van lidmaatskap van die bestuur
    5.17.1 Die amp van ’n bestuurslid sal ipso facto ontruim word as hy/sy geestesongesteld raak, of in ’n Suid-Afrikaanse hof aan ’n Bylaag 1-misdryf skuldig bevind word.
    5.17.2 ’n Bestuurslid se amp word ipso facto beëindig indien hy/sy ophou om lid van die plaaslike AfriForum-tak te wees.
    5.17.3 Indien ’n bestuurslid sonder verskoning van drie vergaderings afwesig is, verval sodanige persoon se lidmaatskap van die takbestuur. Sodanige persoon moet skriftelik van die beëindiging van sy/haar bestuurslidmaatskap in kennis gestel word.
    5.17.4 Indien ’n bestuurslid as kandidaat tydens ’n algemene en/of plaaslike verkiesing staan, word die lid se bestuurslidmaatskap beëindig.
    5.17.5 Indien ’n bestuurslid enige ordereël soos vervat in hierdie grondwet, die AfriForum- takreglement of AfriForum-takbestuurgedragskodes oortree, word die lid se bestuurslidmaatskap beëindig.

    5.18 Vergoeding en skadeloosstelling
    5.18.1 ’n Bestuurslid mag nie regstreeks of onregstreeks vergoeding vir sy/haar dienste ontvang nie en indien dit gebeur, verbeur sodanige bestuurslid sy/haar lidmaatskap van die bestuur (hierdie bepaling sluit die betaling by wyse van vaste termyn kontrakte of honoraria uit).
    5.18.2 Nieteenstaande die voorafgaande bepaling, sal ’n bestuurslid geregtig wees op vergoeding waar hy/sy werk of dienste vir die plaaslike AfriForum-tak in ’n ander hoedanigheid as bestuurslid verrig. ’n Bestuurslid sal ook die reg hê om regstreeks of onregstreeks sake met die plaaslike AfriForum-tak te doen en om regstreeks of onregstreeks belange te hê in ooreenkomste wat met die plaaslike AfriForum-tak aangegaan word, mits die betrokke bestuurslid sy/haar belange aan die ander bestuurslede wat aanwesig is op die vergadering waarop sodanige sake of ooreenkomste behandel word, openbaar maak en nie aan die stemming of bespreking daaroor deelneem nie. Enige sodanige belang moet deur die normale prosesse gaan wat in die AfriForum-takreglement beskryf word.
    5.18.3 Geen bestuurslid sal aanspreeklik gehou word vir enige verlies, skade of ongeluk hoegenaamd voortspruitend uit die vervulling van die pligte aan sy/haar amp verbonde, of wat in verband daarmee staan nie, tensy dit deur sy/ haar eie oneerlikheid of growwe nalatigheid veroorsaak word.

    5.19 Takfinansies, rekeningkundige rekords, state en ouditering
    5.19.1 Die finansiële bestuursprosesse en vereistes word deur die AfriForum-takreglement bepaal. Hierdie reglement mag van tyd tot tyd deur AfriForum-hoofkantoor gewysig word.
    5.19.2 Die finansiële jaar strek van 1 Januarie tot 31 Desember.
    5.19.3 Ten einde die plaaslike AfriForum-tak in staat te stel om selfstandig te wees, mag die tak poog om fondse vir sy werksaamhede volgens die riglyne in die AfriForum-takreglement in te samel.
    5.19.4 ’n Tak mag onder geen omstandighede ’n bankrekening of iets soortgelyks hê nie. Enige kontant moet soos per die AfriForum-takreglement dadelik aan AfriForum-hoofkantoor betaal word.
    5.19.5 Die bestuur van die plaaslike AfriForum-tak moet toesien dat volledige rekeningkundige rekords van die aktiwiteite van die tak gehou word. Volledige rekeningkundige rekords sal nie geag word gehou te wees indien hierdie rekords nie die huidige stand van sake en besigheid van die plaaslike AfriForum-tak weerspieël en die transaksies en finansiële posisie van die tak ten volle verantwoord nie.

    5.20 Fondsinsameling
    5.20.1 Wanneer daar van die dienste van ’n fondsinsamelaar gebruik gemaak word om bydraes in te samel, mag die onkoste (vergoeding en/of kommissie ingesluit) nie die perk oorskry wat van tyd tot tyd deur AfriForum-hoofkantoor vasgestel word nie. Die administrasie van fondsinsameling en die aanstel van ’n fondsinsamelaar word deur AfriForum-hoofkantoor hanteer.
    5.20.2 Die plaaslike AfriForum-tak sal geen kompetisie, wedstryd, spel, skema, reëling of stelsel waarmee een of ander prys gewen kan word, bedryf of laat bedryf nie, tensy:
    5.20.2.1 die voorafmagtiging ingevolge enige ander wet daarvoor verkry is; en
    5.20.2.2 die adjunk- uitvoerende hoof: gemeenskapsake skriftelik tot sodanige projek toestem.
    5.20.3 Daar moet vir alle fondse wat ingesamel word ’n kwitansie aan die skenker verskaf word.
    5.20.3.1 Die kwitansieboeke vorm deel van die bestuur se rekordhoudingvereistes.
    5.20.3.2 Die kwitansieboek moet van AfriForum-hoofkantoor aangevra word.

    5.21 Verbod op die verdeling van inkomste en eiendom
    Die inkomste en bates van die plaaslike AfriForum-tak, uit welke bron ook al verkry, moet uitsluitlik aangewend word vir die bevordering van die tak se doelstellings. Geen gedeelte daarvan mag regstreeks of onregstreeks by wyse van dividend, bonus of andersins aan die lede van die plaaslike AfriForum-tak uitbetaal of oorgemaak word nie; met dien verstande dat niks die betaling te goedertrou van redelike besoldiging of vergoeding aan ’n amptenaar of diensnemer van die plaaslike AfriForum-tak, of aan ’n lid daarvan, of aan professionele en ander kundiges vir dienste werklik aan die plaaslike AfriForum-tak gelewer, belet nie. Indien die AfriForum-tak ophou bestaan of ontbind word, sal alle bates aan AfriForum-hoofkantoor besorg word.

    5.22 Herorganisering en ontbinding
    5.22.1 AfriForum-hoofkantoor behou die reg voor om ’n tak te herorganiseer:
    5.22.1.1 indien ’n meerderheid van die takbestuur sou bedank; of
    5.22.1.2 indien ’n tak onaktief sou raak, kan die uitvoerende hoof van AfriForum of sy gedelegeerde ’n herorganisering van die tak las.
    5.22.1.3 ’n Tak is onaktief indien een of meer van die volgende elemente teenwoordig is:
    a) geen takbestuursvergaderings vind plaas nie;
    b) deelname aan AfriForum-tak-aksies vind nie plaas nie;
    c) daar nie aan AfriForum se nasionale projekte deelgeneem word nie;
    d) daar nie selfdoenprojekte uitgevoer word nie;
    e) die tak het in die algemeen dormant geraak;
    f) die taklede, takbestuurslede of takbestuur tree buite die raamwerk of in teenstelling met die doelwitte van hierdie grondwet op; en
    g) die taklede, takbestuurslede of takbestuur skaad AfriForum se beeld.
    5.22.2 Die plaaslike AfriForum-tak kan alleenlik ontbind word:
    5.22.2.1 op ’n algemene vergadering van lede wat vir daardie doel belê is en waar minstens 75% van taklede wat teenwoordig is ten gunste van ontbinding stem; of
    5.22.2.2 indien die adjunk- uitvoerende hoof: gemeenskapsake die ontbinding van die plaaslike AfriForum-tak gelas.
    5.22.3 Die adjunk- uitvoerende hoof: gemeenskapsake beskik oor die bevoegdheid om die funksionering van ’n plaaslike AfriForum-tak tydelik op te skort, hangende ’n ondersoek en besluit oor ontbinding.
    5.22.4 In geval van ontbinding van die plaaslike AfriForum-tak soos bedoel in die klousule hierbo, moet daar minstens 21 dae kennis van so ’n vergadering gegee word, en die kennisgewing waarin die vergadering belê word, moet duidelik meld dat die kwessie van ontbinding van die plaaslike AfriForum-tak oorweeg sal word. Indien daar geen kworum by so ’n vergadering teenwoordig is nie, word die vergadering vir minstens ’n week verdaag en die lede wat só ’n verdaagde vergadering bywoon, vorm ’n kworum.
    5.22.5 As daar by die likwidasie of ontbinding van die plaaslike AfriForum-tak na voldoening aan al sy skulde en verpligtinge nog hoegenaamd netto bates van watter aard ook al oorbly, word dit nie aan die lede van die plaaslike AfriForum-tak uitbetaal of onder hulle verdeel nie, maar aan AfriForum-hoofkantoor terugbesorg om die werk van die plaaslike AfriForum-tak sover moontlik voort te sit. Die gebied waarin die sake van die ontbinde plaaslike AfriForum-tak deur AfriForum voortgesit sal word, word nie beperk nie.

    5.23 Wysigingsklousule
    5.23.1 Hierdie AfriForum-takgrondwet kan alleen gewysig word indien:
    5.23.1.1 75% van die tak-afgevaardigdes by ’n AfriForum-takkongres daartoe instem, of
    5.23.1.2 75% van die tak-afgevaardigdes by AfriForum-streekskonferensies daartoe instem, of
    5.23.1.3 75% van die tak-afgevaardigdes by AfriForum provinsiale konferensies daartoe instem,
    mits:
    5.23.1.4 die voorneme om wysigings aan te bring op die sakelys van sodanige byeenkomste ingesluit is; en
    5.23.1.5 die bepalings van sodanige voorgestelde wysigings aan afgevaardigdes beskikbaar gestel is; en
    5.23.1.6 die uitvoerende komitee van AfriForum namens AfriForum skriftelik tot die voorgestelde wysigings instem.
    5.23.2 Tussentydse wysigings van ’n praktiese aard kan deur die adjunk- uitvoerende hoof: gemeenskapsake aangebring word, mits die versoek skriftelik gerig en skriftelike toestemming daarvoor gegee is deur die uitvoerende komitee van AfriForum.
    5.23.3 Wysigings word egter eers as finaal beskou na skriftelike goedkeuring deur die AfriForum-direksie.

  • AFRIFORUM-TAKBESTUURGEDRAGSKODE

  • 1. Algemene gedrag van bestuurslede
    ’n Bestuurslid moet sy ampsfunksies in goeie trou, eerlik en op ’n deursigtige wyse verrig en ten alle tye (ook in ’n private hoedanigheid) in die beste belang van AfriForum optree – op só ’n wyse dat die geloofwaardigheid en integriteit van AfriForum nie aangetas word nie.

    2. AfriForum-takgrondwet en AfriForum-takreglemente
    ’n Bestuurslid moet aan die bepalings van die AfriForum-takgrondwet gehoor gee en die AfriForum-takreglement, -stelsels en -prosesse nakom.

    3. Goeie en deursigtige bestuur
    ’n Bestuurslid moet alle bates en finansies van AfriForum en die tak op ’n eerlike en deursigtige wyse te bestuur. ’n Bestuurslid moet die besluite van die tak en takbestuur eerbiedig uitvoer. ’n Bestuurslid moet in die algemeen enige ander bestuursaangeleentheid wat direk of indirek ’n impak op AfriForum mag hê, op ’n deursigtige wyse hanteer.

    4. AfriForum-eiendom
    ’n Bestuurslid mag geen eiendom of bate wat deur AfriForum besit, beheer of bestuur word en waarop daardie bestuurslid geen reg het nie, gebruik, neem, bekom of voordeel daaruit trek nie. Geen takbestuur of bestuurslid mag skenkings maak aan ’n derde party alvorens dit met AfriForum-hoofkantoor bespreek is en goedgekeur is nie.

    5. AfriForum-inligting
    Alle AfriForum-lede se inligting, navorsings- en enige ander inligting wat ’n bestuurslid van AfriForum of ’n ander bestuurslid ontvang, bly die eiendom van AfriForum en mag nie gebruik of bekom word om persoonlike voordeel daaruit te trek nie. AfriForum-lede se inligting, navorsings- en ander inligting mag ook nie vir enige ander doel behalwe AfriForum-aksies gebruik word nie. Slegs die takvoorsitter en sekretaris mag taklededata hanteer, tensy ’n ander bestuurslid toestemming van lede ontvang.

    6. Bywoning van vergaderings
    ’n Bestuurslid moet elke toepaslike vergadering van AfriForum bywoon, asook van ’n komitee waarvan daardie bestuurslid ’n lid is, behalwe wanneer verlof tot afwesigheid toegestaan is, of wanneer daar van die bestuurslid ingevolge hierdie Kode verlang word om van die vergadering te onttrek.

    7. Openbaarmaking van belange
    ’n Bestuurslid moet enige direkte of indirekte persoonlike of private besigheidsbelange aan die takbestuur openbaar wat daardie bestuurslid in enige aangeleentheid mag hê wat voor die tak of takbestuur dien. Hierdie bestuurslid moet ook van die verrigtinge onttrek wanneer daardie aangeleentheid deur die bestuur oorweeg word, tensy daar besluit word dat die bestuurslid se direkte of indirekte belang in die aangeleentheid onbeduidend of irrelevant is.

    8. Persoonlike gewin
    ’n Bestuurslid mag nie die posisie of voorregte van ’n bestuurslid of vertroulike inligting wat hy/sy as ’n bestuurslid verkry vir persoonlike gewin gebruik of om ’n ander persoon onbehoorlik te bevoordeel of te benadeel nie.

    9. Rassisme, seksisme en neerhalende aanmerkings
    Bestuurslede moet die menswaardigheid van alle persone respekteer en hulself van enige vorm van rassistiese en seksistiese uitsprake of diskriminerende gedrag weerhou. Geen neerhalende terme mag gebruik word om na enige ander persoon te verwys nie.

    10. Politiekery
    ’n Bestuurslid mag nie die AfriForum-struktuur as partypolitieke platform gebruik nie en moet die politieke sienings van ander lede respekteer. Enige voorneme om enige partypolitieke amp te beklee of om in enige verkiesing te staan, moet aan die bestuur en AfriForum-hoofkantoor openbaar gemaak word sodat daar op ’n werkswyse ooreengekom kan word om te verseker dat AfriForum se neutraliteit ten opsigte van partypolitiek nie aangetas word nie.

  • AANVAARDING VAN AMP

  • Hiermee aanvaar ek, dat ek met die ondertekening van hierdie dokument, tot die takbestuur van die AfriForum-tak aangewys is.

    Ek verklaar voorts dat:

    1. ek ingevolge AfriForum se gemeenskapsplan tot die genoemde bestuur of komitee benoembaar en verkiesbaar is;

    2. daar tot my wete geen beswaar tot my verkiesing of koöptering is nie;

    3. ek 'n AfriForum-lid is en my ledegeld op datum is;

    4. aanvaar hiermee hierdie tak-grondwet en takbestuurgedragskode en onderneem om ten alle tye, ook in ’n private hoedanigheid, daaraan te voldoen.

    5. ek my tot die reëls, regulasies en beleidsdokumente sal bind wat op my van toepassing sal wees in die nakom van my pligte en verantwoordelikhede as verkose of gekoöpteerde lid van die takbestuur/’n komitee van die AfriForum-tak (skrap wat nie van toepassing is nie);

    6. ek hiermee toestemming en magtiging aan AfriForum gee om toegang tot my persoonlike inligting en/of agtergrond te bekom, beperk tot, krediet, kwalifikasies, indiensnemingverwysings, kriminele rekord, regsgedinge, ID-bevestiging en bestuurderslisensie;

    7. ek verder toestemming gee dat sodanige inligting aan AfriForum vrygestel word vir die voorgeskrewe doeleindes van my verkiesing of koöptering tot ’n amp van vertroue en eerlikheid, wat ook die hantering van kontant en/of finansiële sake kan behels; en

    8. ek bevestig/waarborg dat alle inligting, insluitend persoonlike inligting, wat ten tye van my verkiesing of koöptering aan AfriForum beskikbaar gestel is waar en korrek is.

  • SIGNINGHUB INTEKENAARSOOREENKOMS

  • Vir `n natuurlike person vir die aanvaarding en gebruik van `n digitale sertifikaat uitgereik deur LAW Trusted Third Party Services (Pty) Ltd (LAWtrust) vir die doel van elektroniese handtekeninge soos per die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies, 2002 (Wet 25 van 2002) uit te reik.


    1. BELANGRIKE INLIGTING (Voor u, die applikant, die aansoek indien, moet u onderstaande deeglik lees)

    1.1 Deur hierdie ooreenkoms te onderteken, stem u in om uself tenvolle vertroud te maak met,en te voldoen aan, die bepalings en voorwaardes te vinde in die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies, Wet 25 van 2002, sowel as die Akkreditasie vereistes beskikbaar in die bergingsarea te vinde by www.lawtrust.co.za/repository sowel as enige ander vereistes soos uiteen gesit deur LAWtrust vir die digitale tekening van dokumente.

    1.2 Deur hierdie intekenaarsooreenkoms, tesame met die ondersteunende dokumentasie in te vul en in te dien by LAWtrust, doen u, die applikant, aansoek om die uitreiking van ‘n digitale sertifikaat (sodra dit uitgereik is sal na u verwys word as die intekenaar) wat u in staat sal stel om data boodskappe te onderteken in terme van Artikel 13 van die EKT Wet.

    1.3 Die uitreiking en u gevolglike gebruik van die digitale sertifikaat is onderhewig aan die volgende bepalings en voorwaardes:

    1.4 U, DIE AANSOEKER, AANVAAR EN KOM OOREEN DAT:
    1.4.1 Alle inligting wat u ter ondersteuning van u aansoek om ‘n digitale sertifikaat indien, waar en korrek is.
    1.4.2 Die digitale sertifikaat wat aan u uitgereik word en die gebruik daarvan is beperk tot uself, die intekenaar (m.a.w. die persoon wie se naam in die digitale sertifikaat verskyn) om u instaat te stel om Elektroniese Handtekeninge te gebruik.
    1.4.3 Die privaat sleutel word vir u gestoor in SigningHub en word beskerm deur n wagwoord of ‘n opsionele tweede identifiserings faktoor teen ‘n addisionele koste. U sal alle redelike sorg uitoefen om beheer van die privaat sleutel wat geassosieer word met die publieke sleutel wat in die digitale sertifikaat voorkom, te behou. Dit sluit in om beheer te hou van enige wagwoord en te verhoed dat dit bekend gemaak word aan enige persoon wat nie gemagtig is om u Digitale Handtekening te gebruik nie. Hierdie plig om te beskerm sal voortduur gedurende die tydperk waartydens die digitale sertifikaat geldig is asook gedurende enige tydperk waartydens die digitale sertifikaat opgeskort mag wees.
    1.4.4 Die gebruik van `n digitale handtekening sal `n regsverbinding skep op dieselfde wyse wat `n handtekening op papier sal doen. U is nie gemagtig om u digitale handtekening of sleutel/FIPS Gradeerde Sagteware vir enige onwettige doeleindes te gebruik nie.
    1.4.5 U stem toe tot die prosesseering van u persoonlike inligting deur LAWtrust om u digitale sertifikaat uit te reik asook vir alle ander verwante doeleindes.
    1.4.6 Aan almal wat redelikerwys staatmaak op die inligting wat in die digitale sertifikaat vervat is, bevestig u dat: (i) u regmatig beheer het oor die privaat sleutel wat ooreenstem met die publieke sleutel vervat in die digitale sertifikaat (ii) alle verklarings deur u gemaak aan LAWtrust, sowel as alle bewyse verskaf ter ondersteuning van die inligting soos gevind op die digitale sertifikaat is korrek en waar; en (iii) sover u kennis strek is alle inligting in die digitale sertifikaat korrek en waar.
    1.4.7 U sal LAWtrust versoek om onmiddellik u digitale sertifikaat op te skort sodra u kennis neem en/of redelikerwys moes kennis neem van enige onakkurate inligting wat daarin vervat word, of die vermoede het dat u digitale sertifikaat se privaat sleutel verlore, vrygestel of in die gedrang is.
    1.4.8 U sal nie enige tegniese implementering wat nodig is om u digitale sertifikaat te vervaardig, monitor, daarmee inmeng of dit tegnologies probeer wysig nie. Verder sal u ook nie die sekuriteit daarvan in gedrang bring by wyse van u gebruik daarvan of op enige ander wyse nie.
    1.4.9 Hierdie ooreenkoms is `n wettig-afdwingbare ooreenkoms. Enige versuim om aan die regte en verpligtinge hierin te voldoen sal as `n wesenlike oortreding beskou word.

    1.5 U aanvaar en dra die risiko as u digitale sertifikaat en/of sy geassossieerde privaat sleutel gekompromitteer word, ongeag of dit bespeur was of te nie. Derhalwe aanvaar en dra u ook die risiko dat u gekompromitteerde digitale sertifikaat en/of privaat sleutel gebruik kan word om u te verpersoonlik of u elektroniese handtekening na te maak.

    1.6 LAWtrust, sy lisensiehouers, verskaffers en personeel sal onder geen omstandighede aanspreeklik gehou word, hetsy in kontrak, waarborg, delik, verpligtende aanspreeklikheid of enige ander vorm van aanspreeklikheid, vir enige algemene, direkte, indirekte, toevallige, spesiale of gevolglike skade (insluitend maar nie beperk tot, enige verlies aan winste, verlies van data, onderbreking,rekenaarfout of geldelike verlies) voortspruitend uit u gebruik of onvermoë om enige van LAWtrust se verifikasieprodukte en / of dienste te gebruik.

  • BESTUURSLID PERSOONLIKE INLIGTING


  • Browse Files
    Cancelof
  • Should be Empty: