Elke uitstaller kry toegang tot die Universiteits se Mark area. Elke stalletjie sal 2 week toegangs-armbandjies kry. Indien meer week- of dag-toegangsbandjies benodig word kan dit by die feeskantoor gekoop word. Die meeste venues vir produksies is binne loopafstand van die kunstemark.
Die Universiteit van die Vrystaat se fasiliteitsbestuur gaan streng inspeksies by alle stalletjies hou, en sal waarskuwings uitreik waar daar nie aan die reëls gehou word nie.
Die Callie Humansaal en die Eksamenlokale is beskikbaar vir binne-uitstallers.
Géén voertuie sal gedurende die handelure op die Kunstemark terrein toegelaat word nie. Slegs aflewering vroegoggend tot 08:30, daarna moet elke voertuig die terrein verlaat het.
LET WEL: Onder kosstalletjie-aansoeke word verstaan aansoekers wat voorbereide kos (wegneemetes) en vooraf voorbereide kos (lekkers, koekies en droëvrugte) bedien en ook nie-verseëlde produkte (biltong en roomys) verkoop.
AANSOEKE:
- Lees al die inligting sorgvuldig deur.
- Dien jou aansoek betyds in. Aansoeke word onmiddelik voorgelê vir keuring en plasing.
NEEM KENNIS: Wie eerste aansoek doen sal eerste geplaas gaan word. Staanplek is nie verseker voordat die volledige stalletjiehuur betaal is nie!
- Slegs één aansoek per stalletjie of dubbelstalletjie. Vir ‘n tweede stalletjie moet ‘n tweede aansoek en adminfooi ingedien word.
- Administrasiegeld van R350 (BTW ingesluit) per aansoek is betaalbaar. Dit is nie terugbetaalbaar nie! Sonder die bewys van betaling van die administrasiegeld sal jou aansoek nie voorgelê word vir keuring nie.
- Aansoekvorms kan alleenlik aanlyn ingevul en ingedien word.
Skakel die Kunstemarkorganiseerder gedurende kantoorure:
084 806 9989, indien jy hulp benodig.
PRODUKTE:
DUI ALLE PRODUKTE AAN WAT JY GAAN VERKOOP! Jy mag nie produkte verkoop wat nie op jou aansoekvorm aangedui is nie. Indien daar produkte is wat jy wil byvoeg nadat jou aansoek reeds ingedien is, moet jy by die Kunstemarkorganiseerder aansoek om goedkeuring doen. Die Vrystaat Kunstefees sal geen produkte of verpakkingsmateriaal met rassistiese, seksistiese of xenofobiese boodskappe toelaat nie. Sulke produkte/bewoording sal dadelik aan verkope onttrek word. Alle stalletjies en produkte moet van hoogstaande gehalte wees. LET WEL dat GEEN vervalste produkte toegelaat gaan word nie. Geen elektroniese masseringsmasjiene word toegelaat nie.
KEURING:
Aansoeke word weekliks vir keuring voorgelê. Hoewel daar na gestreef word om net handgemaakte produkte aan te bied is daar tog behoefte aan ‘n klein hoeveelheid fabriek vervaardigde produkte vanuit ander wêrelddele. (Die kunstefees het ‘n lys met uitstallers met ‘n betroubare rekord aangaande betaling en netheid). Al die aansoeke word oorweeg volgens die riglyne soos uiteengesit. Die keurings uitslag is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie. Let Wel: Dit is 'n kunstemark en nie 'n vlooimark nie.
RIGLYNE VIR KEURING VAN AANSOEKE:
- Aansoekvorm volledig ingevul en alle nodige ID’s, foto’s,
sertifikate e.a aangeheg is.
- R350 adminfooi betaal en bewys van betaling aan
Kunstemarkorganiseerder gestuur.
- Unieke, Suid-Afrikaans vervaardigde, handgemaakte produkte.
- Goeie gehalte produkte.
- Volhoubare en omgewings vriendelike produkte.
- Stalletjies waar vervaardiging plaasvind, geniet voorkeur.
- Aansoeke vir geld insameling moet deur ‘n geregistreerde instansie gedoen word.
- 'n Goeie rekord m.b.t. stiptelike betaling van fooie, na-
koming van reëls en regulasies van die Vrystaat Kunstefees en die Universiteit van die Vrystaat. Ontruiming en netheid van die terrein van stalletjie aan die einde van die fees.
KEURINGSUITSLAG:
Géén waarborg kan gegee word vir dieselfde uitstalruimte as in 2024 nie. Keuring vind weekliks plaas. E-pos vir die Kunstemark-organiseerder vir enige navrae: frida@vrystaatkunstefees.co.za
HUUR VAN STALLETJIES:
Die stalletjiehuur is vir die duur van die fees vasgestel en sluit BTW in. Om staanplek te verseker moet 50% huurgeld onmiddelik betaal word en die ander 50% moet op die laatste teen 30 Mei 2025 betaal wees. Gebruik die faktuur se faktuurnommer as verwysing met betaling. Die stalletjienommer word ook saam die faktuur voorsien met die kunstemark uitleg. Die kaart met die uitleg van die Kunstemark terrein is ook op ons webblad www.vrystaatkunstefees.co.za beskikbaar.
HANDELSURE:
Maandag 14 Julie 2025 - Bou van stalletjies
Dinsdag 15 Julie 2025 - 10:00 tot 20:00
Woensdag 16 Julie 2025 - Saterdag 19 Julie - 09:00 tot 20:00.
Die sale moet 20:00 sluit. Buitestalletjies kan tot later handeldryf maar word nie verplig nie. Die feesbestuur in samewerking met Beskermingsdienste doen alles moontlik om die veiligheid van die stalletjies en hulle handelsware te verseker, maar sal nie verantwoordelik gehou kan word vir enige skade nie.
ELEKTRISITEIT:
Slegs één kragpunt per stalletjie word voorsien. Dié kragpunt is slegs vir die gebruik van ‘n lig en kaartmasjien. Dit is jou verantwoordelikheid om aan te dui watter ander elektriese apparate (bv. ‘n kookplaat, ketel of yskas) jy nog wil gebruik en hoeveel elektrisiteit nodig sal wees. ‘n Bykomende fooi sal gehef word vir gebruik van meerdere elektriese apparaat. Géén elektriese verwarmers sal toegelaat word nie. Die Vrystaat Kunstefees en die Universiteit van die Vrystaat sal streng optree teen diegene wat meer apparate gebruik as waarvoor aansoek gedoen en goedgekeur is. Oortreders sal beboet word en apparaat sal verwyder word. Jy moet jou eie verlengkoord en elektriese bybehore, wat in ‘n goeie werkende toestand is, voorsien.
LET WEL: Indien jy die oorsaak is dat ‘n elektriese kontrakteur ingeroep moet word, sal jy vir die koste daarvan verantwoordelik wees.
VERBLYF TYDENS DIE Vrystaat Kunstefees:
Niemand mag op die feesterrein of in 'n motorvoertuig oornag nie. Daar is ‘n klein area, net vir tente, geen karavane of campers nie, op die kampus van die Universiteit. Vir meer inligting aangaande koshuisakkomodasie kan Ilze Nikolova gekontak word. Frida Verster hanteer die kampterrein.
E-pos Ilze vir meer inligting vir koshuisverblyf: nikolovai@ufs.ac.za.
E-pos Frida Verster vir tentverblyf: frida@vrystaatkunstefees.co.za
BESTE STALLETJIEKOMPETISIE:
Die Vrystaat Kunstefees bied jaarliks ‘n beste stalletjie-
kompetisie aan. Daar is elke jaar 4 nuwe beoordeellaars van ons borge wat die beoordeling van die stalletjies doen. Elke beoordeellaar kyk anders na die produkte en uitleg.
Daar is ses kategorieë:
- Beste volhoubare omgewingsvriendelike produk/stalletjie
- Beste kosstalletjie (binne of buite)
- Beste buitestalletjie
- Beste binnestalletjie
- Beste restaurant
- Beste eie skilderkuns (géén galerye nie)
Die stalletjie word op netheid, oorspronklikheid, kunstigheid en verbruikersvriendelikheid beoordeel. Die prys is ‘n gratis standaard stalletjie (3m x 3m) by Vrystaat Kunstefees in 2026. Vir elk van die bogenoemde kategorieë sal daar ‘n aanmoedigingsertifikaat uitgereik word.
ALGEMENE REËLS, GEDRAGSKODE EN VERANTWOORDELIKHEDE:
Die Vrystaat Kunstefees behou die reg voor om ‘n stalletjie-eienaar te weerhou om ‘n stalletjie op te slaan, te verwyder of te laat verwyder indien ‘n uitstaller nie voldoen aan die regulasies nie, insluitend waar ‘n uitstaller:
- Nog geld verskuldig is aan Vrystaat Kunstefees.
- Hom aan wangedrag skuldig maak.
- Geen storting van olies, vette of kos mag in die stormwatergate gedoen word nie. Indien jy van olies, vette of skottelgoedwater by jou stalletjie gebruik moet maak, dui dit aan op die aansoekvorm.
- Die fees dring daarop aan dat van herwinbare en ekologies verantwoordelike verpakkings materiaal gebruik gemaak word.
- Die stalletjie se infrastruktuur nie voldoen aan die standaarde gestel deur die Vrystaat Kunstefees nie.
- Géén tentpenne op teer of gras, asook gazebo’s, word meer toegelaat nie. Daar mag net van sement- of waterankers gebruik gemaak word. Indien daar enige onsekerheid is, skakel gedurende kantoorure 084 806 9989.
- Versuim om ‘n brandblusser in goeie werkende toestand te verskaf.
- By sy stalletjie oornag.
- Sy uitstalruimte vuil en/of onnet is. Die uitstallers is self verantwoordelik om vullis in swart sakke te plaas en na die vullishouers en Skippies te bring. Samewerking word hoog op prysgestel.
- Stalletjies wat drank en/of koeldrank verkoop, sal ook verantwoordelik gehou word om hul verpakkings, bottels en blik elke dag teen eie kostes te verwyder. Daar is strategies geplaasde Skippies op die terrein.
- Sonder toestemming met produkte rondswerf op die markterrein.
- Sy stalletjie onderverhuur sonder skriftelike toestemming van die bestuur.
- Nie by die handelsure hou nie.
- Nie by die reëls en tye van op- en afslaan van die stalletjie hou nie.
- Alle stalletjies en tente moet teen Sondag 20 Julie om 12:00 ontruim en afgeslaan wees. Daar is ander reëlings inplek vir baie groot tente.
- Enige strafregtilike oortreding begaan.
- Uitstallers mag nie borgskappe werf of blootstelling aan enige entiteit op die fees verskaf nie. Borgskapooreenkomste word slegs tussen die Vrystaat Kunstefees en die borge getref. Bemarkings en promosie materiaal wat nie deur die Vrystaat Kunstefees goedgekeur is nie, sal verwyder word.
- Sonder skriftelike toestemming ‘n ander uitstalruimte betrek.
- Die plek waar die stalletjie gestaan het moet agtergelaat word soos jy dit gekry het. ALLE vullis moet verwyder en saamgeneem word, of in strategies geplaasde skip-bins op die terrein. Boetes sal aan oortreders uitgereik word.
PENSIOENTREKKERS:
Uitstallers ouer as 60 jaar kry met die toon van identifikasie 10% afslag op stalletjiehuur. Dit geld alleenlik vir die huur. Alleenlik indien die pensionaris self aanwesig gaan wees by die stalletjie.
KANSELLASIEGELD:
Indien jou huurgeld reeds betaal is en jy moet kanselleer weens onvoorsiene omstandighede in 30 dae (14 Junie 2025) voor die begin van die Vrystaat Kunstefees, sal die Fees 50% van die bedrag plus BTW terughou. Indien daar enige kansallasie is 21 dae (23 Junie 2025) voor die aanvang van die fees word die volle bedrag as kansellasiefooi teruggehou.
Kanselasie-aansoeke moet skriftelik gedoen work en aan die Vrystaat Kunstefees gestuur word by frida@vrystaatkunstefees.co.za. Indien daar versuim word om kanselasie met die fees te kommunikeer sal die totale bedrag van die stalletjie aan die fees verskuldig wees.
BETALING VAN STALLETJIE FAKTURE:
50% van die faktuur is so gou as moontlik betaalbaar om jou staanplek te verseker. Die finale betaling moet teen 14 Mei 2025 gemaak word. Gebruik die faktuur nommer as verwysing met jou betaling. E-pos die bewys van betaling na atie@vrystaatkunstefees.co.za
Indien jy na 31 Mei 2025 kanseleer, sal daar geen bedrag terug betaal word nie!
Daar sal streng teen wanbetalers opgetree word en wanbetalers sal op die swartlys van die Fees geplaas word.
Adminfooi is nie terugbetaalbaar nie.
BANKBESONDERHEDE:
Rekeningnaam: Vrystaat Kunstefees
Bank: ABSA – Brandwag
Tjekrekening
Rek no: 406 667 6437
Baie Belangrik!
EFT en kontant betalings: Onthou om alle vorige verwysingsnommers te verwyder en gebruik jou nuwe faktuurnommer as verwysing by jou betaling.