• Moenie dat n besige lewe Jesus tweede maak nie.

    Kies Jou tyd saam Jesus doelbewus.
  • Image field 11
  • Waarom is dit so moeilik om tyd vir God te maak?
    As jy vandag voel jy sukkel om tyd vir God te maak, is jy nie alleen nie. Baie Christenvroue verlang daarna om meer tyd in God se teenwoordigheid deur te bring, maar teen die einde van die dag voel hulle uitgeput en wonder waar die tyd heen is.

    Ons leef in 'n wêreld wat nooit stilstaan nie. Die oomblik wat ons wakker word, begin die dag reeds eise stel. Selfone lui, boodskappe wag, kinders het ons nodig, werk moet gedoen word, die huis vra aandag en daar is altyd nog iets op die "to-do"-lys. Nog voordat ons dit besef, het ons ure verbygegaan sonder dat ons 'n oomblik stil geword het voor God.

    Die probleem is nie altyd dat ons nie tyd het nie. Dikwels is die probleem dat ons prioriteite deur die geraas van die wêreld beïnvloed word.
    Ons leef in 'n kultuur wat besig wees as 'n teken van sukses sien. Ons voel soms skuldig as ons gaan sit en rus, of wanneer ons doelbewus tyd afsonder om net by Jesus te wees. Tog leer die Bybel ons dat ons grootste behoefte nie nóg produktiwiteit is nie, maar 'n diep verhouding met God.

    Nog 'n uitdaging is afleiding. Ons selfone gee voortdurend kennisgewings. Sosiale media vra ons aandag. 'n Paar minute se blaai verander maklik in 'n halfuur of langer. Intussen skuif ons stiltetyd uit na later… en later… totdat die dag verby is.
    Die vyand hoef jou nie noodwendig weg te trek deur groot sondes nie. Soms is dit genoeg om jou só besig en afgelei te hou dat daar eenvoudig geen ruimte vir Jesus oorbly nie. As hy jou kan keer om tyd in God se Woord deur te bring, weet hy dat jou geloof makliker swak, moeg en ontmoedig kan raak.

    Daarom moet ons besef dat tyd met God nie sommer vanself gebeur nie. Dit is 'n bewuste keuse wat ons elke dag maak. Soos ons tyd maak vir ons gesin, werk en ander verantwoordelikhede, moet ons ook doelbewus tyd afsonder vir Hom.
    Jesus vra nie jou oorblyfsels nie. Hy nooi jou om Hom die eerste plek in jou hart en in jou dag te gee. Want wanneer Hy eerste is, begin alles anders vanuit Sy vrede, wysheid en liefde vloei.


    Vra jouself vandag: Wat kry gewoonlik die eerste deel van my dag—my foon, my werk, ander verantwoordelikhede… of Jesus? 

  • Image field 12
  • Wat leer die Bybel ons?

    God se Woord maak dit duidelik dat Hy nie net deel van ons lewe wil wees nie—Hy wil die middelpunt van ons lewe wees. Wanneer ons Hom eerste stel, plaas ons onsself in die beste posisie om Sy leiding, vrede en wysheid te ontvang.

     

    Soek God eerste

    "Soek allereers die koninkryk van God en leef volgens sy wil, dan sal Hy ook al hierdie dinge vir julle gee." — Matteus 6:33

    Jesus leer ons dat ons eerste prioriteit nie ons werk, geld of verantwoordelikhede moet wees nie, maar ons verhouding met God. Dit beteken nie dat hierdie dinge onbelangrik is nie, maar dat alles begin by Hom. Wanneer ons God eerste soek, help Hy ons om die res van ons lewe met Sy wysheid te bestuur.

     

    Kies Jesus bo besig wees

     "Maria het aan die voete van Jesus gaan sit en na Sy woorde geluister." — Lukas 10:38–42

    Marta was besig om alles reg te kry, terwyl Maria by Jesus se voete gesit het. Jesus het nie gesê Marta se werk was verkeerd nie, maar Hy het gewys dat tyd saam met Hom die belangrikste is. Ons is dikwels soos Marta—altyd besig. Maar Jesus nooi ons om soms soos Maria te wees: om stil te raak en net by Hom te wees.

     

    Wees stil voor God

    "Wees stil en weet dat Ek God is." — Psalm 46:10

    In 'n wêreld vol geraas en afleidings roep God ons om stil te word. Dit is juis in daardie stil oomblikke dat ons Sy stem beter hoor, ons harte rus vind en ons nuwe krag ontvang.

     

    Wat beteken dit vir ons?

    God vra nie vir 'n perfekte skedule of ure se stiltetyd elke dag nie. Hy vra 'n hart wat Hom eerste kies. Wanneer ons doelbewus tyd vir Hom maak, bou ons nie net 'n gewoonte nie—ons bou 'n verhouding met die Een wat ons die liefste het. En dit is daardie verhouding wat ons dra deur elke besige dag. 

  • Wat gebeur wanneer ons God eerste stel?

    Wanneer ons God eerste stel, beteken dit nie dat die lewe sonder probleme sal wees nie. Dit beteken dat ons nie alleen deur die lewe gaan nie. God gee ons wat ons nodig het om elke dag met geloof en vertroue aan te pak.

    - Ons ontvang vrede – God vul ons harte met Sy vrede, selfs in moeilike tye.

    - Ons ontvang wysheid – Hy help ons om goeie besluite te neem en wys ons die regte pad.

    -  Ons geloof groei – Hoe meer tyd ons saam met God deurbring, hoe sterker word ons geloof.

    -  Ons leer Sy stem ken – Ons begin God se leiding duideliker herken.

    -  Ons ontvang nuwe krag – God versterk ons wanneer ons moeg en moedeloos voel.

    Onthou: Wanneer jy God eerste stel, verander Hy nie altyd jou omstandighede nie, maar Hy verander jou. Sy vrede, wysheid en krag help jou om elke dag met hoop en vertroue te leef. 

  • Image field 13
  • Praktiese wenke om meer tyd met God te maak.

    Om tyd met God te maak, gebeur nie toevallig nie. Dit is 'n doelbewuste keuse wat ons elke dag maak.

    🤍 Begin jou dag met God voordat jy jou foon optel.

    🤍 Beplan jou stiltetyd soos enige ander belangrike afspraak.

    🤍 Begin klein. Selfs 10–15 minute saam met God kan 'n groot verskil maak.

    🤍 Lees 'n gedeelte uit die Bybel en bid: "Here, wat wil U vandag vir my leer?"

    🤍 Bid deur die dag. Gesels met God waar jy ook al is.

    🤍 Verwyder onnodige afleidings. Sit jou selfoon op stil of eenkant wanneer jy tyd met God spandeer.

    🤍 Maak Jesus jou eerste prioriteit, nie jou laaste opsie nie. Moenie wag totdat alles klaar is voordat jy tyd met Hom deurbring nie.

    🤍 Moenie moed opgee as jy 'n dag mis nie. Begin eenvoudig weer. Gan die volgende dag net al. Moenie ophou nie.

    Onthou: Konsekwentheid is belangriker as perfeksie. God verlang nie 'n perfekte roetine nie, Hy verlang 'n hart wat Hom elke dag eerste kies. 

  • Selfondersoek:

    Kyk eerlik na jou hart
    Neem 'n paar minute en wees eerlik voor God. Vra jouself: Kry Jesus werklik die eerste plek in my lewe, of gee ek Hom net die tyd wat oorbly? Is daar dinge wat my aandag en tyd meer opeis as my verhouding met Hom? Dalk is dit werk, sosiale media, verantwoordelikhede of die besige ritme van die lewe.


    God vra nie dat jy perfek moet wees nie. Hy nooi jou om jou hart aan Hom te gee en elke dag opnuut te kies om Hom eerste te stel. Selfs 'n klein verandering vandag kan 'n groot verskil in jou verhouding met Hom maak.

  • Image field 14
  • Gebed

    Hemelse Vader,

    Dankie dat U altyd tyd vir my het, selfs wanneer ek sukkel om tyd vir U te maak. Vergewe my waar ek U soms tweede stel en toelaat dat die besige lewe my aandag van U af wegneem.

    Ek kies vandag om U eerste te stel. Help my om elke dag doelbewus tyd in U teenwoordigheid deur te bring, U Woord te lees en na U stem te luister. Gee my die wysheid om my tyd reg te bestuur en die dissipline om by U uit te kom, selfs wanneer die lewe besig raak.

    Vul my hart met U vrede, lei my deur U Gees en laat my verhouding met U elke dag sterker word. Ek wil nie net meer van U weet nie—ek wil U werklik ken en elke dag nader aan U leef.

    In Jesus se Naam bid ek.

     Amen. 

  •                Vrouwees in geloof 

     Geskryf duer: Jeanine Van der Berg 

  • Should be Empty: